cecile Cic01

MAAK KENNIS MET CECILE...
Ek is in Germiston gebore en op 2-jarige ouderdom het ons na Brakpan verhuis. Ek het my skoolloopbaan by Brenthurst Laerskool begin. Op 9-jarige ouderdom is my enigste suster, Nelie, gebore. Ons was die kinders van Gert en Corrie Vermaak.

In 1955 het ons na Potchefstroom verhuis, waar ek in President Pretorius Laerkool was. Tydens die eerste 2 jaar van my hoërskoolloopbaan was ek in Gimnasium Hoërskool. In st. 8 (gr. 10) het ek na die Hoër Handelskool geskuif. Ek het later aan die Potchefstroomse Onderwyskollege studeer, met Drama en Spraakkuns as hoofvakke. Ek het my man, Hannes in ons eerste jaar ontmoet. Ons was albei onderwysers. Ons woon sedert 1985 op Witrivier. My man was tot sy aftrede in 2005 die adjunkhoof by Hoërskool Rob Ferreira. Ek was verbonde aan Flamboyant Remediërende skool. Ek het na 43 jaar diens in 2009 afgetree, maar gee sedert 2012 tuisonderrig by my huis.

Ons het drie pragtige kinders, Celéste Labuschagne, adjunkhoof by Hoërskool Erasmus op Bronkhorstspruit, Johan, predikant by NG Vanderbijlpark Sentraal en Gerrit-Jan, departementshoof en koshuisvader by Hoërskool Lydenburg. Ons is geseën met agt pragtige kleinkinders, waaronder 'n hemelkindjie is.

As kind het ek “in stories geleef!” Omrede ek 'n alleenmens is, het ek baie tyd vir fantaseer gehad. Ek is 'n dromer en introvert. Ek het reeds op laerskool begin stories skryf. Ek het later op 'n ou swart Remington tikmasjien geskryf. My liefde vir poësie en voordra het op 5-jarige ouderdom reeds begin toe ek in die eetwa van 'n trein - op 'n tafel - my verhoogdebuut gemaak het. Ek skryf op my BlackBerry. Dis altyd byderhand en ek skryf gedagtes neer soos dit opduik. Ek het in ander bundels enkele gedigte gepubliseer, maar nooit my eie bundel uitgegee nie. Vir my was dít net 'n droom, wat nou waar geword het!

Die geboorte van "Goeiemôre, my sonskyn" - Cecile se debuut bundel!

Ek skryf nie volgens reëls nie. Ek kry inspirasie uit iets kleins of ek verwoord my emosies op daardie oomblik. Ek skryf en maak klaar. Ek skryf "sonder omhaal van woorde" in Gebruiksafrikaans. Ek skryf vir myself, soos ek voel.

Een van ons groot digters beskryf dit so pragtig:
"If poetry comes not as naturally as leaves to a tree...it had better not come at all." ~ John Keats.

Een van die digtersblaaie het 'n paar van my gedigte opgeneem in bundels. Ek het so 'n jaar gelede besluit ek moet al my skryfsels bymekaar sit en in 'n bundel uitgee sodat ek vir elke kind en kleinkind iets persoonliks kan nalaat. Ek het deur middel van Facebook by Mar-Leo Publiseerders uitgekom. Van daar af was die bal aan die rol. My droom het waargeword en so is "Goeiemôre, my sonskyn" gebore.

"Goeiemôre, my sonskyn" is beskikbaar teen R150 (posgeld ingesluit) en kan by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. bestel word.