Jonker01

Ons stel met groot trots die eerste KunsWeb blog bekend! Sy is gebore op 23 Oktober 1963 in Mafeking en het in die Kaap grootgeword en op 17 Julie 2015 stel Diërdré Jonker haar tweede digbundel, “Kobalt,” bekend.

Nadat sy 19 jaar by 'n bekende lugredery gewerk het, is sy in 2007 na die Weskus gelok; die spreekwoordelike “vissie aan 'n hoek.” Sy bestuur tans 'n gastehuis in Paternoster, een van die mooiste dorpies op die Weskus. Juis daar, ongeveer 4 jaar gelede, het sy begin skryf. Die behoefte by méns kon sy so duidelik ervaar om ons wonderlike Afrikaanse digkuns te verstaan, maar deur 'n prentjie.

“Ek het ook soos ‘n ware Weskusser my merk in die visvang wêreld gemaak en het al selfs mans leer snoek vang - die enigste ding wat my nog ooit waarlik geduld kon leer.”

WAT WAS JOU INSPIRASIE AGTER “KOBALT”?

Kobalt se inspirasie was voor die hand liggend tydens 'n besoek aan Italië in 2013, toe ek Polignano a Mare vir die eerste keer kon belééf - daar waar die Mediterreense en Adriatiese see bymekaar kom en die strook see kobalt onder die son gelê en blink het - 'n visie wat in my hart, siel en geheue ingebrand is. In 2014 het ek aan 'n vriendin genoem dat my volgende bundel iets met blou te doen sal wees. Sy was baie opgewonde, aangesien dit ook haar gunsteling kleur is. Saam het ons op die naam “Kobalt” besluit. Die bundel is dus aan Mariëtte van Dyk en my broer wat in Februarie 2015 oorlede is, opgedra. Die afwisseling en speel van kleure in Paternoster, het my net so baie geinspireer.

WAT WIL JY DEUR DIE BOODSKAP VAN “KOBALT” BEREIK?

My grootste droom is om aan die mense wat vergeet het om vir hulself te praat en hoe om kleur te sien, weer 'n reënboog deur my woorde te verf. Ek wil graag die spreekbuis vir so baie mense, wat nie meer die kindwees in hulself wil erken nie, wees. Ek wil deur my gedigte inspireer en juis daarom, sluit so baie daarvan dan juis ook 'n boodskap in. Daarom, skryf ek so baie, ek skryf vir jou 'n gedig in blou. Johan Greeff se resensie som dit so mooi op... wat die kleur, blou, vir menswees beteken. O, mag ek hierdie reënboog en prentjies in my woorde vir my lesers vasverf.

KITSFEITE:

WAT IS JOU GUNSTELING KOS?

Ek moes vir die vraag lag! Ek is mal oor 'n burger wat jy met albei jou hande moet vashou en wanneer jy klaar geëet het, jou wange nog van die lekkerte blink.

WAT IS JOU GUNSTELING DRANKIE?

Gunsteling drankie? Haha - enigiets... As ek wil maak of ek gesofistikeerd is, altyd ‘n glasie lekker wyn (en ek is mal daaroor om wyn uit ‘n kristalglas te drink).

NA WATTER MUSIEK LUISTER JY TANS?

Wel, dit hang van my bui af, maar asseblief net nie swaar jazz nie. Ek raak deurmekaar met die verskillende wysies al weet ek dit is 'n kuns. Gee my 'n mikrofoon en lekker musiek en ek hou vir jou 'n vertoning - al is daar niemand nie - wat lyk of ek dit voor 'n skare van duisende doen!

WAT MAAK JOU AS MENS UNIEK?

Julle weet klaar ek vang vis, ek is 'n adrenalien junkie, het al gebungee en gebridge en onder aan 'n helikoptervrag in 'n storm gehang. Ek GLO daar is NIKS wat ek NIE kan doen nie!

Kontak Diërdré by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. vir navrae en bundel bestellings!