Grobler01

KunsWeb maak kennis met veelsydige skrywer, Francis Grobler. Francis het reeds vier publikasies agter haar naam, waarvan twee publikasies ook elkeen hul eie CD het.

Sy het selfs 'n projek saam met die sanger, Wynand Strydom aangepak. Lees gerus hier meer oor dié talentvolle dame en haar werke!

WIE ORE HET

Dikwels poog ouers lomp-tong om vrae van kinders ten opsigte van die boek Openbaring te beantwoord. Dis meer ingewikkeld as alledaagse vrae waarvan ouers meestal oor die nodige kennis beskik en dit dan dikwels verduidelik aan die hand van simboliek of vergelykings. Openbaring werk andersom en dit hang vraagtekens soos wasgoed bo feitlik elke sin op. Alhoewel Openbaring letterlike gedeeltes bevat kry ons dikwels gedeeltes vol beeldspraak, sonder die nodige kennis om hierdie figuurlike gedeeltes te interpreteer. Dit herinner soms aan die gelykenisse wat Jesus vertel het, sodat mense die betekenis daaragter beter kon interpreteer. Deur die sleutelgat van Openbaring kry ons ’n kykie na die geheimenisse van die eindtyd en wat daarop volg. God het al hierdie dinge persoonlik aan Johannes bekend gemaak. Wanneer ons baie fyn daarna luister, sal ons oral die sleutels raaksien. In hierdie boek word gepoog om die sleutel te draai en die skrefie deur die sleutelgat te verruil vir ’n oop deur, sodat selfs die jong leser dit beter kan begryp. Daarom is dit in kindervriendelike trant geskryf sodat veral die jong klomp dit maklik sal verstaan.

DUSKANT ANNERKANT

Daar’s dááikant – waar raaisels vervlinder tot realiteit en diékant – van toe als nog onbenoemd was. Iewers tussenin lê Duskant Annerkant. Dis by dié klein vertoef waar goed soos Boschkrans se kop wat somers hurk tussen landerye en winters agter die koue deurspook; hoëveldgras wat langs die waggeltrap van tweelinglammers spykerskrif waai teen die grond; die ewige skrilkerm van die windpomp; die vêraf gerammel van donderweer; die reuk van reën; koffiestoom of klam grond of die vêr verlang, jou hart snuif trap – teks aankarwei deur ‘n voordeurgleuf. In Duskant Annerkant word die leser meesterlik weggedra tot in die stewige takke van interkontinentale storiebome en ander spekulatiewe plekke waar wolke kring om jou.

PYLTJIES INNIE SAND

Met winterkoffie, reën; die geur van nat grond en varsgesnyde gras maak die outeur haar debuut as poëet in hierdie kaalvoet-digbundel. Met die fokus op nostalgie en sentiment slaag Grobler daarin om ’n versameling baie suksesvolle en universele woordkuns vry te stel. Sestien van hierdie gedigte word deur die legendariese liedjieskrywer, Tony Ridgway, getoonset en gesing deur die bekende sanger Wynand Strydom. Die unieke verwerking van die lirieke word meesterlik gekomplimenteer met die besondere stem van Stydom. Voorwaar ’n unieke kombinasie van liriek en musiek. CD met sestien snitte ingesluit.

AARD

Aard het ’n eiesoortige uniekheid en andersheid waarin hierdie vrygees digter, liedjieskrywer en strorieverteller omvangryke kwessies en alledaagse intriges deel maak van haar woordrygsels. Die onopgesmukte bladontwerp, asook die voortgesette, hoofletterlose skryfstyl – dog kragtige inhoud- versterk die eenvoud en aardsheid waarmee Grobler haar onpretensieuse penvrugte sedert 2007 publiseer. Die ekstra toevoeging van haar lirieke is verfrissend en verskeie toonsettings deur Jaco Blomerus, Clinton Zerf, Cheree Strydom en Wouter van de Venter word kundig verwerk en uitgevoer deur die sangers Jaco Blomerus en Wynand en Cheree Stydom. CD binnekort beskikbaar. Voorwaar ’n klein bundel met groot trefkrag – ’n móét vir elke koffietafel.

Besoek gerus Mar-Leo Publiseerders se Boekwinkel vir bestellings! Kontak Francis by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. vir enige navrae!