Hanker01

MAAK KENNIS MET JOHANNIE...

Ek is op 1 Desember 1958 in Zimbabwe gebore. Ek het vanaf tweejarige ouderdom in Germiston grootgeword. Ek was tydens my skoolloopbane in Laerskool Elandia, Dinwiddie en Afrikaans Hoërskool in Lambton, Germiston. Daarna het ek by Potchefstroom se Onderwyskollege musiekonderwys gaan studeer.

Ek is al 34 jaar getroud met Douglas Hanker en het ‘n dogter, Alet (getroud met Andries Hennop), seun Douglas (getroud met Anja) en tesame vyf kleinkinders (Goggokies). Ek woon in Phalaborwa vir die afgelope 27 jaar. Deur al die jare het ek nie net by klassieke musiek gebly nie, maar verskeie kunssoorte aangepak en bemeester, asook internasionale borduur en ontwerp gedoen. Tans is ek ‘n loodglas-kunstenaar, liedjieskrywer en digter.

Ek is ‘n dromer, filosoof en denker. Na ‘n paar traumatiese ervarings het ek op ‘n dag begin gedigte skryf. Ek het ook ‘n hele paar liedjies in die mark, o.a. “God se Boemelaar” (gesing deur Gibbon), “Duisend soene” en “Goggokies” (‘n suiwer Ouma-liefdeslied) gesing en geskryf vir Johané, Andriette, Maryke, Heinrich en klein Marlie. Daarna het veel meer gedigte liedjies geword en andersom.

Intussen het ek al gedigte gedeel in publikasies soos “Omskrif”, “Cantino”, “Fluistermaat”, “Appellieffebos”, “Humoresk in blou” (almal uitgegee deur Kreativ SA). Die vroueblad en die inspirasieboek, “’n Myl in my skoene” en ook “Vier Seisoene” deur Mar-Leo Publiseerders.

Van baie vroeg in my lewe was ek daarvan bewus dat die Here die pad saam met my stap, maar ek staan steeds verstom oor Sy genade en liefde in my lewe.

JOHANNIE VERTEL MEER OOR ENGELE VAN MY HART...

Hierdie digbundel weerspieël my lewe, al my seer en my vreugdes. My liefde vir, en afhanklikheid van ons Here. Mag dié wat dit lees ietsie hieruit kry, al is dit ‘n stukkie inspirasie of selfs net ‘n glimlag. Dit kom alles uit die hart van ‘n kaalvoet-vrou wat glo in die liefde, al is ek soms heeltemal te eerlik!

Dan kom daar ‘n dag
wat jou lewe die moeite
werd maak!
En jy sê, “Here, as U my
wil kom haal?
Dis reg so, ek het dié
wat ek liefhet reeds van
my liefde vir hulle vertel”

~Net ekke, Johannie

WAT WAS DIE INSPIRASIE AGTER ENGELE VAN MY HART?

My liefde vir my Skepper, my mense vir wie ek lief is, veral my Goggokies (kleinkinders). Ook om met dankbaarheid my talent met ander te deel.

WAT IS DIE GROOTSTE BOODSKAP WAT ENGELE VAN MY HART AAN DIE LESER BRING?
Ek wil graag die boodskap tuisbring dat daar wel lewe na trauma is; ‘n wonderlike geseënde lewe vol van Sy genade, meer as wat menslike verstand kan besef - dinge wat geen geld in die wêreld kan koop nie. Ek wil bewys dat die lewe nie altyd vol seer is nie. Daarom is my leuse ”never just sorrows, always blessings.”

Kontak Johannie by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. vir bestellings en navrae.