11257180 1297712420254657 2586355081636821242 o

 

Mar-Leo Publiseerders stel bekend...

'n Versameling van vier A6-grootte bundels oor Geloof, Hoop, Vriendskap en Liefde. Indien die boekies in 'n spesifieke volgorde gepak word, vorm die agtergrond soos 'n legkaart se stukkies wat bymekaargekom het. Sonder hierdie aspekte in jou lewe, sal jou lewe slegs brons wees en nie GOUD soos die agtergrond nie. Die goud dui ook aan dat hierdie die ware rykdomme van die lewe is. Dinge wat geld nie kan koop nie!

HOOP: RESENSIE (Tish Swanepoel)

Geen mens kan sonder hoop bestaan nie, soos duidelik deurskemer in elke gedig in hierdie opboudende boekie. Waar sou ons vandag wees indien ons toekoms nie meer verwagting inhou nie? Ek lees in hierdie hartswoorde van doodloopstrate wat deur hoop gefnuik word. Die Spreuke-digter skryf, "daarom dat die hoop van die goddelose sal vergaan."

Hier sien ek pragverhoudings met ons Hemelse Vader wat vol hoop en belofte is vir iets beter wat wag, ook dat God ons omring van agter en van voor en dat elke digter in hierdie versameling werke vol hoop is vir die pad vorentoe, hetsy in ons land of in hul persoonlike lewens.

Laat hierdie boekie vir jou 'n anker wees wanneer jou hoop wankel en antwoorde ver voel. Op elke bladsy is daar 'n boodskap wat van waarde is. Dankie vir elke digter wat sy/haar hoop met ons hier deel.

LIEFDE: RESENSIE (Tish Swanepoel)

1 Korinthiërs 13:1- "Al sou ek die tale van mense spreek, en ek het nie die liefde nie, het ek 'n klinkende metaal en 'n luidende simbaal geword."

So het ons almal grootgeword met hiedie bybelvers. Hoe verder ek tussen die gedigte verdwaal, hoe meer pitkos kry ek. Liefde tussen God en mens, man en vrou, ouers en kinders, mens en dier en ook so die natuur word alles saamgevat en pragtig uitgebeeld in hierdie pragboekie.

Ek lees nie net die mooi van liefde raak nie, hier en daar is 'n seer vers wat mens se hartsnare ruk en jou laat besef dat liefde kan seermaak ook.'n Veelsydige buksie van 'n bundel wat ek met trots op my koffietafel sal uitstal.

Wat 'n eer en voorreg was dit nie om saam met hierdie groep talentvolle digters in die bundeltjie te verskyn nie. Welgedaan Mar-Leo met nog 'n wenner in julle biblioteek. Ek sien alreeds uit na julle volgende projek.

GELOOF: RESENSIE (Francois Meyer)
Die “Geloof”-bundel deur Mar-Leo Publiseerders, is seker een van die kragtigste bundels in dié stel van vier bundels. Om by elke vers stil te staan, is om ‘n wonderwerk te aanskou - die groot wonderwerk van talente wat aan elke digter in hierdie samestelling gegee is.

Om oor geloof te dig, behels dat die digter ‘n stukkie van sy / haar diepste wese in woorde weergee. Dit is wonderlik om die groei in geloof raak te lees wat by ‘n mosterdsaadjie begin en groei in elke versreël.

‘n Aangrypende bundel, ‘n bundel wat van vaste vertroue op God spreek, maar bowenal ‘n bundel wat GETUIG. Hierdie bundel is pitkos vir die siel en laat vele stof tot nadenke.

VRIENDSKAP: RESENSIE (Francois Meyer)

Daar is niks soos die woorde: “ek waardeer jou” of “jy is vir my kosbaar” nie. Om vriendskap neer te pen, moet ‘n digter waarlik uit sy / haar hart skryf. Dit is presies wat die digters in hierdie puik aanbieding deur Mar-Leo Publiseerders gedoen het.

Spesiale odes aan vriende en vriendinne wat van soveel waardering spreek, maak hierdie bundel goud werd - nes die vriende en vriendinne in elke digter se lewe vir hulle ook goud werd is. Geskryf in vrygees Afrikaans, kan elke leser ook hulle kosbare vriendskappe met ander in die kleurryke verse raaklees.

Hierdie samestelling is eerlik en opreg; die ideale geskenk vir ‘n vriend of vriendin. Loop gerus hand-aan-hand met elke digter se vriendskapwoorde en sien weer die fyner dingetjies in die lewe raak!

Hierdie stel bundels is beskikbaar teen R250 (posgeld ingesluit). Kontak Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. vir bestellings en navrae!