Mar01

MAAK KENNIS MET MARIUS…
Marius van der Mescht is op 1 Mei 1976 in Middelburg in die Kaap gebore. Op 5-jarige ouderdom het sy gesin na Klerksdorp verhuis, waar hy en sy drie broers - Herman, Ian en Marcelle - hul skoolloopbaan by Hoërskool Schoonspruit voltooi het. Marius skryf al sedert sy skooldae, maar het nooit die vrymoedigheid gehad om sy skryfwerk te deel nie. Daar is altyd ‘n eerste keer. Marius se ouers, Dolf en Ritha van der Mescht, het hulle seuns in alles ondersteun wat hulle gedoen het en het hulle die mans gemaak wie hulle vandag is. Sy passie vir dig is ‘n gawe van die HERE en daarvoor is hy baie dankbaar. Die gedigte in sy bundels is gevoelens en hartswoorde met ink op papier ingeënt.

MARIUS VERTEL MEER OOR “SOUL SEARCHER”…
Hierdie bundel gesels oor my eie lewe, sowel as die mense wat my lewe geraak het. Ek voel soms indien net één gedig se woorde vir één mens iets beteken, juig my hart. Soul Searcher is my weergawe van die verskuilde woorde en gevoelens wat soms diep in ons siel en harte lê en soms net die regte woorde soek om onsself te kan uiter. Met woorde begin elkeen se genesing - van ons kort net ‘n hupstoot.

MARIUS PRAAT SY HART UIT…
Die lewe het my gelei na die pad waarop ek vandag staan. Vele op- en afdraende heuwels sal mens altyd kry, maar die waarheid van menswees kan jy altyd in woorde vind.
Die keuses wat ons maak, goed of sleg, lê ‘n grondslag vir jou toekoms en dit is die fondamente waarop jy moet bou. Onthou altyd - en dis woorde wat iemand spesiaal my geleer het - "Maak nie saak waarheen jou lewenspad jou neem nie, GOD het dit klaar vir jou gestap.”
Hoor my woorde vandag; daar is niks wat jy nie kan doen nie. HY gee jou altyd die krag, jy hoef nie ver te soek nie. Marius vertel sy lewensverhaal deur sy digkuns en “Soul Searcher: Volume II” sal ook eersdaags ‘n nuwe seisoen van Marius se lewe aan die leser vertel.
“Soul Searcher” kan teen R200 (posgeld ingesluit) by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. bestel word.