Pike01

MAAK KENNIS MET SUSANNE...
Susanna Sophia Pike is op 5 Februarie 1963 in ‘n plattelandse dorp, Groblersdal in Mpumalanga gebore.

Haar skoolopleiding het sy onderskeidelik te Juniorskool Willem Grobler, Laerskool Julian Muller en Hoërskool Ben Viljoen ondergaan. Sy het in 1980 gematrikuleer. Sy verwerf haar BA(Ed)-graad, met Afrikaans en Bybelkunde as hoofvakke, in 1984.

In 1985 begin sy skoolhou by Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria, waar sy vir 18 jaar haar geliefde moedertaal onderrig. Na ‘n persoonlike tragedie, verhuis sy in 2003 na Mtunzini in KZN waar sy vir ‘n kort tydperk onderrig by Hoërskool Empangeni. Vanaf 2004 is sy weer terug in Pretoria en is sedertdien ‘n onderwyseres by Pretoria High School for Girls.

Sy is in 2002 getroud met Wayne Pike. Hulle het nie kinders nie, maar twee miniatuur Dachshunds en ‘n praatsiek papegaai.

Sy het in 2015 ernstig begin verse skryf; geniet dit om in die tuin te werk en te verf. Haar filosofie oor die lewe? “Die lewe gebeur met ‘n mens. Dit is hoe jy dit hanteer, wat die verskil maak.”

INKSPOOR

Susanne het op 11 Junie 2016 haar debuutbundel, Inkspoor, bekendgestel.

"Met my debuutbundel, Inkspoor, wil ek die leser nooi op ‘n reis na ‘n dikwels onherbergsame gebied - die kop en hart van ‘n digter!

Om te dig, is ‘n amper-onverklaarbare, versluierde proses waarin die digter sy intens-intieme gevoelens en gedagtes in ink doop met die hoop om onuitwisbare spore te laat…

Laat dus my woorde toe, liewe leser, om spore waarop jy graag weer en weer sal wil loop, in jóú hart te trap!

Ek dra hierdie bundel op aan my man, Wayne - vir sy geduld en ondersteuning tydens my oneindige verkenningstogte na onbekende terreine."

Resensies

“vir beskaamde hoop

- oopgevlek -

stuur jy ʼn

donsige duif

met jou vrede

in sy

bek”

(uit: Olyfboom)

Wie sal nie hoendervleis wees met die lees van hierdie strofe, aangehaal uit een van haar gedigte nie? Wie? In jou hande, liewe leser, hou jy die room van Afrikaanse digkuns vas.

Ontmoet moderne digkuns se eie Ingrid Jonker, Susanne Pike. ‘n Digter wat debuteer met haar bundel, Inkspoor - so ʼn gepaste titel waar sy inkspore in harte laat wat dekades later steeds oor gepraat gaan word.

Hierdie spesiale bundel is keurig saamgestel met van Susanne Pike se gedigte wat sy graag met haar lesers deel. Deur haar digkuns ervaar ek Susanne as ‘n fynbesnaarde vrou wat liefde maak met haar taal en woordpassie.

As woordkenner, boei sy die aandag van haar lesers met die mees interessante tegnieke om haar werk lewendig, dog sleurmooi afgerond te hou.

“jou siel

is ʼn soel

bergpoel

waar ek

vlekkeloos

ʼn (wit) lelie sien

s t a a k r e e w”

(Uit: Weerkaats)

Let op die kriptiek in die woord “staakreew”; lees dit van agter na voor en dit herhaal die titel van die gedig “weerkaats.” Slim geskryf.

Susanne stempel haar eie unieke skryfstyl af in woordskilderye met ʼn wye spektrum genres waarin sy meesterlik dig. Versugting, liefhê, seerkry en vergifnis wat deur die bundel meander in inkspore.

As digter, kan mens Susanne Pike nooit tipeer nie, maar as mens kón, sou mens na haar verwys as “die een wie se gedigte mens tussen duisend ander kan uitken.”

Liewe Susanne, jou nederigheid, eerlikheid, mededeelsaamheid straal uit in jou gedigte. Mag Inkspoor baie lesersharte aanraak en ver reise gaan. Presies net soos jy die mensdom so mooi toewens met jou immer omgeehart:

“(het ek) jou papawerhart

- steeds trillend seer -

keurig met magrietjies besaai;

verlepte vergeet-my-nietjies

uit jou oë gepluk;

roosdoringwoorde verplant

bedek met soet lemoenbloeiselboorde”

(Uit: Tuin van Vergiffenis)

Baie geluk met ‘n uitstekende bundel wat ek hoog aanbeveel.

~ Lizette Snyman (Stigter van digblad, Solovlug & Afrikaanse Digter)

----------------------------

Susanne Pike debuteer met ‘n bundel wat die weerloosheid wat die lewe oor mens kan bring sterk beklemtoon, maar tog word hierdie reis deur uitsonderlike digkuns met hoop en vrede gevul. Só vul sy haar spore met ink. Inkspoor neem die leser op ‘n woordreis na ‘n ander wêreld.

Die digter het voorwaar haar menswees soos houtskool in woorde geslyp om eindelik ‘n diamant van ‘n Afrikaanse bundel te bied. Die algehele indruk wat Inkspoor by die leser skep, is ‘n gevoel van waardigheid. Susanne se boodskap spreek met die leser op ‘n siels- en hartsdimensie - “jy is waardig.”

“ongeskonde onskuld

en goddelike skoonheid

voer die onderwêreld mee

Hades ge(Phersephone)seer!”

Hierdie aanhaling (nes al haar werke) getuig dat Susanne deurgaans vir diversiteit in haar gedigte sorg. Verskeie onderwerpe word aangeraak en suggestief deur middel van kragtige metafore, unieke tipografie, uitstekende gebruik van alliterasie en buitengewone woordspeling weergegee.

Inkspoor gaan beslis ‘n inkspoor in lesers - asook ander digters - se harte laat. Susanne slaag daarin om weer die Ingrid Jonker-era na digkuns te bring. Haar digkuns is ‘n nalatenskap waarop die nuwe generasie trots kan wees. Moenie op hierdie revolusionêre bundel uitmis nie!

~ Francois Meyer (Afrikaanse digter en stigter van KunsWeb)

Inkspoor se eerste oplaag het binne een week uitverkoop. 'n Tweede oplaag is gedruk weens magdom aanvraag. Inkspoor is beskikbaar teen R150 (posgeld ingesluit) en kan via Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. bestel word.