Tish01 bruggie

Griet het 'n sprokie geskryf, maar Tish Swanepoel het 'n bruggie gebou met haar debuut bundel. Maak hier kennis met Tish - 'n digter enig in haar soort!

"It aint over till the fat lady sings..."

Wel, aangesien ek geissue is met 'n "GOUE STEM" sal ek julle hierdie ondervinding spaar! Want sien, hoe GOUER ek OPHOU sing, hoe beter! Om julle dankbaarheid te bewys... KOOP MY BUNDEL!

Ek wou iemand vra om iets oor my te skryf, soort van 'n getuigskrif... en toe besef ek, wie ken my beter as ekself? Blykbaar my dierbare dogter "Hallo ma se kind!" ...want sy reken, en ek haal haar aan "ma is full of shit!" Excuse me en ek is jammer (nie), want sien, nes ek... lieg my dogter nooit!

Ek is 'n gebore boekwurm en het altyd gewens ek kon ook skryf. Vandat ek by SOLOVLUG aangesluit het, het die straatdigterstyl my bekoor. Sover as wat ek gelees het, het ek altyd gesê... "Ek wens ek kan SO skryf!"

En toe besef ek, ek kan ook skryf. Ek weet daar is nie letterkundige toekennings in my toekoms nie, maar skryf het ek geskryf en so is my woordbaba gebore. Bou 'n Bruggie word ook aan SOLOVLUG opgedra.

BOU 'N BRUGGIE...

Bou 'n Bruggie is Tish se debuut bundel wat in 2016 vrygestel is. "Bou ‘n Bruggie is my gunsteling gesegde, vandaar die naam vir hierdie bundel. Ek het maar baie issues (soos seker 90% van julle). Liefde is een van die onverstaanbaarste emosies, hopelik sal ek eendag voordat ek huis toe gaan my sielsgenoot ook ontmoet. Indien nie, sal dit ook reg wees. Ek het geleer in die lewe dat mens eers jouself moet liefhê voordat jy kan verwag dat ander jou moet liefhê, wel… ek werk daaraan (promise). As jy jouself onder my brug sou raaklees, BOU ‘N BRUGGIE... EN KOM DAAROOR."

RESENSIES...

Liewe Tish Swanepoel, kom in, dis Kaptein hier van die Solovlug-skip! Hoe lag ek altyd lekker vir die ge-kapteinery! Deur talle storms het jy nooit geloof verloor in die seëninge van ons skip en sy Kompas nie. Jy is en was altyd dáár! Baie dankie dat jy nie verdrink het soos talle ander nie. Jy is een van ʼn handjievol admins wat hierdie groot SOLOVLUG-skip laat vaar in rustige waters, met meer as drie-duisend medevaarders. Tish is ʼn mens wat die lewe nie maklik had nie. Enkeling, heen en weer geslinger deur die lewe. Hoopvol gaan werk het by bedrieërs; genadiglik wortels gevind het by Mar-Leo Publiseerders. Julle maak ʼn goeie span! Tish is ʼn aanwins ten opsigte van haar nuwe beroep en ʼn aanwins vir Afrikaans! Hierdie bundel, “Bou ʼn Bruggie” is so eerlik en sonder smuk. Gedigte hierin saamgevat spreek tot die talle fasette van menswees. Die titel is so goed gekose, omdat dit so universeel is. Elke mens nodig om ʼn bruggie te bou, dinge te verwerk en om aan te beweeg. Die hunkering, eerlik met woorde in hierdie spesiale bundel gevleg, straal soos ʼn helder maan oor haar gedigte: “laataand teen sluimertyd droom ek jou flonker sterre, deur my vensterruit sien ek maan se lippe tuit” – Aanhaling uit: Jy is my son.

Tish skryf in talle genres en ek maak graag melding van haar volk wat sy passievol liefhet. In ʼn tyd waar daar politieke oorloë en debatte gevoer word óf Afrikaans nog enigsins plek in die samelewing en op universitiete het: “teen dagbreek het ek geweet bitterbos se tak sal ons eet deurnag se duister donker wolk oor ʼn verstote verlore boerevolk” – Aanhaling uit: (ver van) Versoeningsdag. Tish eksperimenteer as opkomende debuut-digter. Sy skryf duette saam met mededigters; ʼn bewys dat sy uitreik na mededigters. Sy dra dikwels gedigte op aan mense wat dit nodig het. Tish skryf uit die hart. Soos hierdie ongelooflike teer-mooi gedig se eerste strofe wat ek graag aanhaal: “versteek in die dieptes van jou siel die mooiste ondergrondse meer waar ek kan rus en pitkos eet ontvlug van die wêreld se oë”- Aanhaling uit: My Voedingsaar. Mag hierdie debuutbundel baie harte aanraak. Soos ek sê, dit is sonder smuk en rigiede voorskrifte. Hierdie is ʼn Afrikaanse hartsbundel. Lank leef Afrikaans en Tish Swanepoel met die liefde wat sy bring in “Bou ʼn Bruggie”!

~Lizette Snyman (Afrikaanse digter & stigter van SOLOVLUG)

Hoe bou mens 'n spreekwoordelike bruggie oor strome van herinneringe, liefde en seer? Tish Swanepoel vertel tree vir tree haar verhaal deur middel van digkuns in haar debuut bundel, “Bou 'n Bruggie.” Die hartseer wat mense oor die digter se pad gebring het, asook die geluk en liefde wat ánder weer oor haar pad gebring het, word onbaatsugtig beklemtoon en in woordvlerke (ook van haar Verlosser) toegevou.

Uit gebroke hoop het sy weer hoop gevind, deur 'n gebroke hart kan sy steeds in liefde glo en iewers op haar bruggie het sy 'n spesiale plekkie vir 'n handjievol mense oopgehou. 'n Kombinasie van Afrikaanse en Engelse gedigte en merkwaardige vloei in duette saam met mededigters bring Tish se veelsydigheid na vore. “Bou 'n Bruggie” is ryk in beeld en klank; wat getuig van 'n besonderse verwysingsraamwerk waaruit die digter genot put en keurig in haar gedigte weef.

Tipografie word uitstekend toegepas om verskeie boodskappe suiwer uit te lig. 'n Unieke uitleg wat in verskeie gedigte raakgesien kan word, word kreatief en toepaslik gebruik. Dit sorg natuurlik ook vir 'n prettige leesreis! “Bou 'n Bruggie” is 'n breë spektrum digbundel uit die hart en pen van 'n vrou wat soos 'n feniks uit haar hopie as verrys het.

Baie geluk met 'n indrukwekkende debuut bundel, Tish! Indien jy as leser na daardie “iets anders, meer as net vrygees en verrassende leesstof” op soek is, word “Bou 'n Bruggie” spesiaal vir jou aanbeveel!

~ Francois Meyer (Afrikaanse digter & stigter van KunsWeb)

“Bou 'n Bruggie”… in 'n neutedop som hierdie woorde PERFEK vir Tish op. 'n Girl wat LEEF en haar nie deur die lewe se eb en vloed laat onderkry nie. Ek het die voorreg om haar te ken as vriendin, skrywer, mentor, vrou, sielsuster en méns. Haar gedigte verwoord wat so baie van ons dink en voel. Sy kry dit reg om die leser te laat meeleef; liefde, vertroue, hartseer, vreugde en lewe vang sy vas in beelde wat gemaklik lees en ongelooflike trefkrag het. Haar skryfstyl is suiwer Tish: eg en sonder pretensie. Hierdie bundel hoort op elke koffietafel en ek weet dit is die begin van groot dinge vir jou, liefste Tishtwin.

~ Christelle Terblanche Strauss (Afrikaanse digter)

Tish het die langpad van ontdek en herontdek gestap. Die progressie in haar gedigte van "nuweling" tot gevestigde digter op Solovlug is merkwaardig. As ek terugdink aan haar begin dae op Solovlug in September 2013 tot nou kan ek nie anders as om "bravo!" te juig nie. Die kombinasie van duette, Afrikaans en Engelse gedigte in "Bou 'n Bruggie" is net nog 'n bewys van Tish se bereidwilligheid om 'n kans te vat en iets anders te probeer. Die flambojansie van die digbundel lê in die eenvoud van haar gemaklike skryfstyl waarmee sy ons almal keer op keer verras. "Die lig roep vervaard, waar skyn my skaduwee?" Tish, jou skaduwee skyn groot oor Afrikaanse literatuur. Baie geluk met jou debuut bundel en prag waarmee die bundel uitgelê is. Ek glo en vertrou dat elke leser die bundel sal geniet soos ek het. Definitief 'n bundel wat trots op enige koffietafel of boekrak kan pronk vir weer en weer lees.

~ Leon Botes (Afrikaanse digter)

Kliek hier om by Tish se Facebook-blad aan te sluit! (Ons Kort Die Skakel ASB)

Spesiale aanbod! "Bou 'n Bruggie is nou beskikbaar teen slegs R150 (was R200) (posgeld ingesluit).

Vir bestellings en navrae, kontak Tish by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.